PROJEK 2050
Soos met enige struktuur of organisasie moet veranderinge en verbeteringe noodwendig met die tyd aangebring word.
Reeds vir jare kla lidmate oor die akoestiek en luidsprekerstelsel in die kerk. ‘n Komitee onder leiding van Blignault Gouws het as eerste fase van Projek 2050 die nodige veranderinge in die liturgiese ruim aangebring. Watter groot verbetering!
Met die sekuriteit-situasie by begraafplase word dit nou oorweeg om ‘n Muur van Herinnering op die kerkterrein aan te bring.
‘n Ernstige behoefte is die gebrek aan kantore vir die gemeente. Daarmee saam benodig ons vir die koster (Jabu Mtau) huisvesting op die kerkterrein. Ons het geen veilige parkeerplek wanneer vergaderings in die aand plaasvind nie.
Vir funksies en sosiale verkeer na afloop van eredienste, sal ‘n dakstruktuur tussen die kerk en die saal ‘n wêreldse verskil maak. Kuierplek – vir oud en jonk!
Ons hoop (sommige van) hierdie projekte kan spoedig realiseer.
Projek 2050 is soos dit aandui gerig om nou al aan die mense van 2050 te dink en aan hulle fasiliteite en geloofserfenisse na te laat wat hulle ook kan help om getroue getuies van Christus te kan wees. Dit beteken hoegenaamd nie ons wil die fasiliteite eers in 2050 verbeter nie.